Strategiese voeding van ooie voor en na die dekseisoen

Voedingstatus kan ‘n groot invloed op die produksie, reproduksie, wolkwaliteit en algemene gesondheid van ‘n skaapkudde hê.  Dit is belangrik om te bepaal wanneer en hoeveel strategiese voeding van ooie aangewend moet word om winsgewendheid te verhoog.  Prikkelvoeding en die voeding direk na besetting, tydens inplantering van die embrio, is uiters belangrik om die reproduktiewe potensiaal (fekunditeit) van die ooi na vore te bring.

Prikkelvoeding

Prikkelvoeding van nie-oorvet ooie (2.5 tot 3.0 kondisietelling) 21 dae voor paring, wat ‘n verhoging in liggaamsmassa veroorsaak, het ‘n styging in die meerlinggeboortes van die ooie tot gevolg weens die verhoogde ovulasietempo van die ooi.  Prikkelvoeding lewer byvoorbeeld nie altyd die gewenste uitwerking nie, aangesien ooie wat in ‘n swak kondisie (kondisieteling <2) is nie lank genoeg blootstelling kry aan prikkelvoeding om merkbare kondisieveranderings te veroorsaak, en by oorvet (kondisietelling >3) ooie word daar nie altyd ‘n verhoging in ovulasietempo met die aanwending van prikkelvoeding waargeneem nie.  Dit het die vermoë om die lampersentasie met tussen 10 en 20% te verhoog mits die lampersentasie van die kudde nie reeds 20% hoër as die rasgemiddeld is nie.

Die basiese vereiste is dat prikkelvoeding ten minste 17 dae voor dektyd verskaf moet word aan ooie in die regte kondisie om ‘n gewenste uitwerking te hê.  Prikkelvoeding korter as 14 dae het geen effek, en langer as 28 dae hou nie enige voordele in waar dit aangewend word by ooie met ‘n kondisietelling tussen 2.5 en 3.0 nie.  Dus moet prikkelvoeding ten minste een estrussiklus voor dektyd aan die ooie voorsien word om ‘n verhoging in die ovulasietempo te verseker.

Voeding tydens vroeë-dragtigheid

Alhoewel prikkelvoeding reproduksiepotensiaal verhoog, kan dit nie in afsondering van die voedingstatus van die ooi direk na besetting en die daaropvolgende 30 dae van dragtigheid gesien word nie.  Hierdie vroeë dragtigheidsperiode is baie belangrik om die implantering en oorlewing van die embrio te verseker.  Soms word prikkelvoeding tydens hierdie periode (nadat die ramme uitgehaal is) gestaak, wat tot vroeë embrionale verliese kan lei.

Voedingstekorte en/of wanbalanse en liggaamskondisie is die belangrikste faktore wat embrionale verliese tydens vroeë dragtigheid beïnvloed.  Swak liggaamskondisie en/of voedingstatus voor paring, het ook ‘n invloed op embrionale verliese na paring.  Met wanvoeding, veral ten opsigte van proteïentekorte, is daar gevind dat tot 55% van ooie hul embrios resorbeer.

Dis belangrik om te onthou dat beide onder- en oorvoeding tydens vroeë-dragtigheid nadelig vir embrio-ontwikkeling is.  Waar ooie voor dekking in ‘n baie swak kondisie was (kondisietelling < 2) en in daardie 21 dae voor dekking oorvoer was, is daar embrionale verliese waargeneem tydens vroeë dragtigheid wat nie by ooie in ‘n goeie kondisietelling wat prikkelvoeding ontvang het, waargeneem is nie.

Lambing Lick is ‘n produksielek wat spesifiek geformuleer is om aan ooie se voedingsbehoeftes tydens kritiese periodes te voldoen.  Die produk voorsien ‘n hoë gehalte proteïen as beide verbyvloeiproteïen en degradeerbare proteïen om beide voor en na dekking aan die ooie se proteïenbehoeftes te voldoen en embrionale verliese te beperk.  Die produk is vervaardig van hoogs-verteerbare voedingstowwe wat die nodige energie aan die ooie verskaf om ‘n verhoogde ovulasietempo onder verskeie omstandighede te verseker.

Vir die gewenste resultate skakel u Meadow Voere Tegniese Adviseur vir verdere besonderhede.

Foto verskaf deur SA Vleismerino

George Wiehahn
CENTRAL REGION: RUMINANT TECHNICAL ADVISOR