Wolproduksie begin nie met die skeer van ’n skaap nie, dit begin reeds voor geboorte. Die twee primêre faktore wat wolkwaliteit beïnvloed, is genetika en voeding. Om verder uit te brei gaan ons kyk hoe hierdie twee faktore wolproduksie beïnvloed.
Genetika
Omdat sommige woleienskappe negatief gekorreleer is met ander belangrike ekonomiese eienskappe, is dit ’n komplekse proses om diere met meer en beter wol te teel sonder om ander eienskappe te benadeel. Daar word algemeen aanvaar dat fyner wol gepaard gaan met diere wat kleiner in raam is en ’n laer vaggewig produseer. Dit hoef egter nie die geval te wees nie. Daar bestaan wel diere met teelwaardes wat die teendeel voorspel. Hierdie diere beskik oor die vermoë om beide die hoeveelheid en die kwaliteit van die nageslag se wol te verbeter. ’n Doeltreffende teelbeleid en goeie bestuur, wat die voedingstatus van die diere insluit, moet dus so toegepas word dat die diere hul genetiese potensiaal kan bereik.
Primêre wolfollikels ontwikkel tussen dag 60 en dag 90 van dragtigheid. Sekondêre wolfollikels ontwikkel vanaf ongeveer dag 90 van dragtigheid en bereik ’n maksimum op ongeveer dag 125 van dragtigheid, maar hou steeds aan ontwikkel gedurende die eerste paar weke na geboorte. Hierdie sekondêre follikels het die grootste effek op die digtheid en fynheid van die wol. Hoe hoër die digtheid van die sekondêre follikels, hoe meer en fyner wol produseer die skaap oor sy leeftyd. Die gekombineerde effek van genetiese potensiaal en voedingstatus bepaal dus die hoeveelheid van elke tipe wolfollikel, sowel as die aktiwiteit van die follikels. Daarom is die voeding wat die ooi gedurende dragtigheid en laktasie ontvang baie belangrik vir die leeftydwolproduksie van haar nageslag.
Voeding
Follikelontwikkeling vind hoofsaaklik in die fetus en in mindere mate in die jong lam plaas, daarom is dit belangrik om te fokus op die voeding van die ooi tydens dragtigheid asook gedurende haar laktasie. Dit is belangrik dat daar aan haar voedingsbehoeftes (energie, proteïen, minerale asook vitamiene) voldoen word sodat follikelontwikkeling en aktiwiteit nie beperk word nie.
Navorsing ondersteun die invloed wat maternale voeding op die wolproduksie van die nageslag het. Dit dui daarop dat daar betekenisvolle verskille ten opsigte van vaggewig en veseldikte opgemerk word tussen die nageslag van ooie met verskillende vlakke van voedingstatus gedurende dragtigheid. In ’n studie wat in Australië gedoen is, het die lammers van ooie wat 10 kg liggaamsmassa verloor het gedurende die eerste 100 dae van dragtigheid 0,2 kg minder wol geproduseer vir elke skeersel tot en met 51 maande ouderdom. ’n Alternatiewe studie, ook uit Australië, dui aan dat geneties identiese nageslag (embrio’s van gekloonde diere wat op dag 6 verdeel is) 0,14 kg minder wol met 0,1 μm sterker vesels produseer, teenoor hul tydgenote waar die ooie se liggaamsmassa onderhou was.
Buiten die impak op die wolproduksie is daar nog ander voordele wat verkry word wanneer die ooi voldoende voedingstowwe ontvang gedurende dragtigheid en laktasie. ’n Swaarder, sterker en meer lewenskragtige lam word gebore met ’n aktiewe imuunstelsel wat minder vroeë mortaliteite tot gevolg het. Sterk, gesonde lammers groei ook vinniger en word dus vroeër en/of swaarder gespeen.
Gevolgtrekking
Deur te verseker dat die ooi in ’n goeie kondisie lam, en deur die korrekte byvoeding tydens dragtigheid en laktasie te voorsien kan die beperkende invloed van die omgewing op produksie in ’n mate uitgeskakel word en leeftyd-wolproduksie van die nageslag verbeter word.